STORMS EN HAEL VERWOES PLAASLIKE WONINGS

haelskade

Ons kyk na die laaste maand se storm- en haelskade. Dit is tog so waar dat wanneer ‘n mens die minste voorbereid is, is dit dan die tyd wat die onsekere verwoesting jou tref. ‘n Mens voel dan tog so magteloos en boonop moedeloos ook. Daar was onlangs storms en hael wat die Hartbeespoort area en onderdele in die Brits omgewing getref het. Dit het soveel skade berokken. Dakke en vensters was verwoes teen ontelbare rande se skade (of liewers ‘n mens is geneig om nie aan die ontstellende bedrae te wil dink nie).

Die vreeslike hitte is veroorsaak deur ‘n sterk geografiese en klimaatslaedruk siklus wat dan vir ‘n lang tydperk oorheers. Dit veroorsaak immers die spoedige opbou van cumulonimbuswolke wat eintlik donderwolke is wat gevaarlike hael en storms kan mee bring.

Daar was ook verskeie berigte van dakke wat afgewaai het in Kroondaal naby Rustenburg. En weens die area se plotwonings was sandstorms duidelik sigbaar. As ons nou ons denke bietjie verder van ons plaaslike Noord-Wes laat vaar, sal ons tog onthou dat ‘n boer in die Vrystaat tot selfmoord gepleeg het oor die klimaatstoestand.

Daar was ook ‘n berig oor ‘n veeboer in die Noord-Wes wat weens die droogte nie meer kon bekostig om sy vee te voer nie. Hierdie boer het ook sy eie hand aan sy lewe geslaan. Hy kon dit net nie verdra om te staan en te kyk hoe sy vee honger ly en vergaan nie. Dit is ‘n baie moeilike tyd in ons ekonomie en vir ons boere. Dit is hoogtyd om saam te staan en mekaar se laste te help dra. Ons sal nie hierdie rampe oorleef as ons ‘n houding van selfsugtige ‘eie-ek’ inneem nie. Ons sal elkeen onsself moet afvra “wat doen ek in my hoedanigheid om my naaste te help wat in die nood is?”

Ons as boerevolk roem mos graag daarop dat ons ‘Christene’ is, of wel konserwatief Christelik is. Ons is geneig om God te vergeet wanneer die skeure vol graan is en die beker oorloop. Maar sodra die verwoester ons vierkantig in die oe kyk en die elemente in die lug en op en onder die aarde gebruik om ons mismoedig te maak, wil ons of God blameer of die werklikheid van die Godheid ontken.

Job druk dit duidelik uit: “Al sal die vyeboom nie bot nie, en daar geen druiwe aan die wingerd wees nie – nogtans sal ek juig en jubel in God my redder.” In sulke tye wanneer ons rug teen die muur is en dit voel asof ons waarlik bo ons kragte getoets word – vat moed o liewe leser – moenie hoop verloor nie. Daar is nog altyd hoop, en more sal die son weer skyn. Vertrou nie op mense nie maar vestig jou oë op die Verlosser. Wanneer jy soek na ‘n redder, sal jy vind die redder is die Gees binne in jou, daardie Gees wat se “kind kyk op, hierdie sal ook verby gaan.”

In party gevalle veroorsaak ons ons eie ellende – dan pas die gesegde ‘God helps those whom help themselves.” Ander tye, maak nie saak wat jy doen nie, is gevaar onvermydelik. In beide gevalle sal ‘n mens altyd vind dat met genoeg geloof, geduld, gewilligheid en lydsaamheid is daar altyd op die regte tyd ‘n uitweg.