storting van buitelandse landbou produkte op ons markte voorspel gevaar

storting van buitelandse landbou produkte op ons markte voorspel gevaar

Georganiseerde landbou in Suid-Afrika het baie kundigheid. Hulle is gedurig in gesprek met die regering en poog om hul kundigheid aan die regering oor te dra en hande te vat om die kompleksiteit van die totale omvang van ons landboubedryf doelgerig en met realisme te bestuur. Op die oog af, vir ons as normale boere, blyk dit asof die kloof tussen ons landbou-organisasies en die regering net nie oorbrug kan word nie.

Dit is die regering se verantwoordelikheid om voedselsekerheid aan te spreek. Dit word van ‘n regering verwag om met alle kundigheid tot sy beskikking die leiding te neem en te beplan vir die toekoms. Simplisties gestel – ‘n verantwoordelike regering kyk na die volle prentjie, kyk na hoe sy mense in tydperke gaan vermeerder in die toekoms, kyk hoe sulke mense tot die ekonomie van die land kan bydra en kyk hoe sulke mense kos gaan kry. Meer eenvoudig kan mens dit nie stel nie. Met ander woorde, die regering moet ‘n klimaat skep vir ontwikkeling. Hy moet dit moontlik maak vir sy mense om werk te kan kry. Hy moet landbou, sy grootste bondgenoot, bystaan en met programme help om sy primêre funksie na te kom, naamlik die produsering van kos.

Ons wil graag in hierdie artikel net landbou onder die vergrootglas plaas. Slaag ons regering in hierdie deel van sy verantwoordelikheid? Die antwoord is ‘n jammerlike nee. Die indruk word verkry dat die regering die landbouer as ‘n bedreiging sien – eintlik as ‘n vyand. Kort-kort kom die regering met uitsprake na vore wat net enige nugterdenkende mens se hare laat rys. Uitsprake soos werkers wat 50 persent van ‘n boer se eiendom moet besit. Dit is ernstige goed en hulle gaan net ongestoord voort om aanmekaar ‘n wig tussen hulself en die landbou in te dryf. Hierdie ondeurdagte uitsprake veroorsaak ongevraagde rimpelings deur ‘n industrie wat reeds gebuk staan onder geweldige aanslae.

Indien ‘n regering verantwoordelik is sal hy, met die toekoms in gedagte, sy landbou industrie beskerm. So ‘n regering sal maatreels instel om sy boere te help om te produseer. Hy sal ook sy boere dadelik van hulp wees wanneer ‘n ramp hulle tref – soos byvoorbeeld die huidige droogte. So ‘n regering sal ook sy boere met subsidies ondersteun om sy produkte goedkoper in die markte te kry. Ander lande doen dit, maar die vraag is waarom ons regering dit nie doen nie.

In kort kom dit daarop neer dat die regering toelaat dat produkte, wat oorskotprodukte van ander lande is, die land laat binnekom teen pryse wat omtrent gelykstaan teen ons produksiekostes. Die rede vir die goedkoop produkte is dat daardie produkte hewig deur hulle eie regerings gesubsidiëer word. Daardie produkte is in baie gevalle substandaard teenoor ons eie produkte. Ons verneem dat die ingevoerde koring geweldig deur ons eie koring aangevul moet word om aan die bakkers se standaarde te voldoen.

Ons melkboere is nou ook onder beleg. Die wanbalans tussen vraag en (oor)aanbod is verder aangeblaas deurdat 89 miljoen liter melk vanjaar ingevoer is. Suiwelboere in Pole sit ook met ’n oorskot nadat Russiese markte vir landbouprodukte uit die Europese Unie gesluit is uit weerwraak teen sanksies weens Russiese optrede in die Oekraïne. Poolse melkboere ontvang ’n EU-subsidie en kan melk lewer teen laer pryse as die plaaslike produksiekoste. Die direkte gevolg is dat melkboere eenvoudig kan ophou om te bestaan. Die vergrootglas sê dat wanneer daardie goedkoop melk nie meer inkom nie, ons self sal moet sorg. Het ons dan melkboere om te sorg?

Kom ons gaan verder. Daar is ‘n Amerikaanse Wet op Grond en Geleenthede in Afrika. Speel daardie ouens die bal? Hoegenaamd nie. Hulle dreig en pers af en ons ‘intellektuele’ leiers sien geensins die slaggate raak nie. Die buitelanders verwag hoër standaarde van ons produkte en verwag laer standaarde vir hulle produkte. Goeie genugtig – kan mens meer! Ons owerhede buig wanneer hulle ‘demand’ terwyl die buitelanders se interne prosesse nog nie uitgeklaar is nie. Intussen gaan dit om hulle varke, beesvleis en pluimvee op ons te stort, of te wel te dump, terwyl hulle ons uitvoere soontoe bykans onmoontlik maak.

Ons wil geensins alarmisties wees nie, maar ons moet ophou om eenvoudige goeters as realiteit te aanvaar. Mense word gekondisioneer, kyk byvoorbeeld na grusame plaasmoorde wat deesdae nie eers meer die hoofopskrifte haal nie. Petisies te spyt.

Om dit saam te vat is eenvoudig. Die regering het geen toekomsvisie nie. Hulle voer nou goedkoop produkte in en dink dat dit verewig gaan voortgaan. Hulle dink nie aan selfversorgendheid nie. Wat gaan gebeur wanneer die dag aanbreek wanneer daardie invoere stop en ons nie kos vir onsself het nie? Geen melk, geen vleis en geen koring?

Boere kan maar skreeu soos hulle wil, maar destyds was daar moontlik sin in die Beheerrade; Mielies, Koring, Sagtevrugte, Sitrus en so meer. Daardie mense het in tye van groot konflik hulle stemme laat geld. Teenoor ‘n regering wat aandag gegee het. Jammer om te sê – dinge het gewerk.

Wat gaan ons regering vorentoe sê wanneer alles ontplof? Die antwoord is mos eenvoudig – blameer apartheid of Jan van Riebeeck.

8 thoughts on “storting van buitelandse landbou produkte op ons markte voorspel gevaar

  1. I simply couldn’t go away your site before suggesting
    that I extremely enjoyed the standard info a
    person supply to your guests? Is going to be back ceaselessly to check out new posts

  2. Hey there, You have done an incredible job. I’ll
    certainly digg it and personally recommend to my friends. I am confident they
    will be benefited from this site.

  3. I think this is among the most significant information for me.
    And i am glad reading your article. But should remark on few general things, The
    site style is great, the articles is really nice : D.
    Good job, cheers

Comments are closed.