Tabakboerdery steeds aktief in Brits

Tabak en Brits is sinoniem. Die ou dorpswapen het ‘n tabakblaar daarin. Destyds was hier in die orde van 500 tabakboere rondom Brits. Hulle was baie suksesvol en die ekonomie het gebloei. Daar is ‘n storie dat tabakboere uit hael uit ryk geword het – sodra die hael die twak wegslaan is die volgende plantjies in, want die versekering betaal!

Vandag is daar ‘n handjievol tabakboere in ons omgewing en hulle boer voluit. Ongelukkig is tabak vandag onder geweldige druk. Wetgewing het dit ten doel om die gebruik van tabak ‘n totale taboe te maak. Enige gebruiker van hierdie produk voel vandag soos ‘n krimineel. Die dae van die Stuyvesant cowboy op sy perd en die advertensies op die reisieskarre behoort ook aan die verlede. Die vraag ontstaan of die anti-tabak mense hulle sin gaan kry. Enige Wet kan deurgevoer word, maar waar is die meganismes om dit toe te pas of af te forseer.

Ander lande het dagga as ‘n normale gebruiksartikel en meer walglike gebruike van verbode middels is aan die orde van die dag. Natuurlik is rook skadelik – vetsug en drankmisbruik ook, sal enige roker hom- of haarself verdedig.

Ons gaan vorentoe ‘n bietjie meer intensief na die tabakbedryf kyk. Dit vorm deel van Brits se geskiedenis en ons wil dit nie ignoreer nie. Waarskynlik is daar mooi stories. Ons wil dit graag hoor en oorvertel – ons stel intens daarin belang.

Kan iemand nog die reuk van oupa se pyp, wat hy in die voorhuis of die stoep aansteek onthou? Snaakse herinneringe kom na vore.