Treadstone Kwartelboerdery – Fenominaal!

DSC00301Hierdie verhaal begin baie lank gelede. Terug na die Ou Testament in die Bybel toe Moses die Israeliete uit Egipte gelei het. Sommer in die tweede boek, Eksodus 16 vers 13 staan dit: “Teen die aand het daar kwartels aangevlieg gekom en oral in die laer gaan sit.” Dit was die eerste keer waar dit in die Bybel aangeteken staan waar die Here sy volk van kos voorsien – kwartels en manna.

Weet jy iets meer hiervan af? Is ons eerste vraag aan Colette Grobler, eienares van die Treadstone kwartelproduk by haar onderneming net buite Brits. “Verseker,” glimlag sy, “en daardie kwartels was van die spesie coturnix coturnix waarmee ons hier boer. Die enigste gene van daardie spesie is hier by my.” Colette noem verder dat die gene van die kwartel nie egter die argument is nie, maar die grootte van die kwartel. Gene kenners is dit eens dat die grootte van die kwartel waarmee sy boer, die grootte van die Bybelse kwartel verteenwoordig. Sy het ons volle aandag en rustig verduidelik sy die geskiedenis. “Dit is gedokumenteer dat die vulkaan Thera sowat 3,500 jaar gelede op die Griekse eiland Santorini uitgebars het. Dit was ‘n geweldige ontploffing wat ‘n omgewingsimpak tot so ver as Sjina, Amerika asook Antarktika gehad het. Hist

Gaar eiertjie, toegedraai in "won-ton" velletjies en gediepbraai
Gaar eiertjie, toegedraai in “won-ton” velletjies en gediepbraai

orici en argeoloë argumenteer dat daardie uitbarsting die ekwivalent was van honderde atoombomme, vulkaniese as oor Asië gestrooi het en vir so lank as drie jaar snaaksgekleurde sonsondergange tot gevolg gehad het. Bewerings bestaan dat hierdie uitbarsting selfs gekoppel word aan die Bybelse plae van daardie tyd en die uittog uit Egipte. Die effek van die Thera uitbarsting kan moontlik sommige van die plae wat Egipte getref het soos duisternis en besoedelde riviere verklaar.” En die kwartels? “’n Kwartel kan net vir baie kort entjies vlieg. Dit word beweer dat daardie ontploffing so hewig was dat dit ‘n geweldige sterk lugstroom gevorm het wat die kwartels oor die Middellandse see geneem het en in Egipte neergelaat het!” Kan jy nou meer. Oor die feit dat haar kwartels dieselfde as die Bybelse kwartels is noem sy dat dit gestaaf word deur verskeie navorsingstukke en is ongetwyfeld so.

Beteken dit dat die kwartel van die Bybel net op een plek in Suid-Afrika gekry kan word en dit is in Brits? “Net so,” antwoord Colette met ‘n breë glimlag, “maar wereldwyd is daar verskeie plekke waar die gene ook voorkom. Ek dink aan plekke soos Abu Dabi, Frankryk, Duitsland, die VSA en Sjina.” Sy bevestig dat die normale kwartel te klein is vir vleisteling.

Ons het nie besef dat ons so ‘n juweel van ‘n storie kon raakloop nie en wil nou sommer baie dinge weet. Hoe het dit begin? “Sowat vyf jaar gelede het ek ‘n Franse skryfskool waarna ek genooi is deur Riana Scheepers van Tukkies in Frankryk bygewoon. Met ‘n middagete in die Franse platteland Boussac het hulle onder andere kwarteleiers in die dop bedien en ek het ‘n redelike gesukkel gehad om die eiers uit die dop te kry. Net daar is my aandag geboei en kort daarna het ek ‘n paar kwartels by ‘n pet shop gekoop omdat die voël se persoonlikheid my aangetrek het. En hier sit ek nou met 12 000 van hulle,” sê sy met ‘n wese wat ‘n weerspieëling is van werklike liefde en trots.

Dadelik trek ons die stoute skoene aan en vra haar hoe die kwartel smaak. Haar gelaat verdonker en sy sê dat sy geen idee het nie – sy eet nie haar kinders nie!.

Baie gou kom ons agter dat Colette ernstig is met haar besigheid en dat sy kundig is – sy weet waarvan sy praat. Sy het ‘n sakeonderneming op die been gebring in ‘n nismark en duidelik het sy baie navorsing gedoen. In kort kom dit daarop neer dat die besigheid op twee bene staan – eiers en vleis.

Oor die eiers praat sy baie entoesiasties en verduidelik in detail hoe gesog hierdie produk, tesame met die vleisprodukte, in eksotiese restaurante, spog wynplase, hotelle en lugrederye beland. Haar besigheid produseer vars eiers en gepekelde eiers. Selfs ‘n leek kan die eiers pekel en dit is redelik eenvoudig. Gooi gekookte eiers, ‘n derde elk van water, suiker en asyn met ‘n bietjie sout in ‘n bottel en laat dit vir sowat twee weke staan. Vinnig kom ons agter dat haar gepekelde eiers die resultaat is van baie navorsing en proefnemings. Duidelik gebruik sy nie die leekresep nie en die eiers, wat in ‘n 330ml botteltjie verpak word, se smaak is uit die boonste rakke. Selfs die verpakking van die vars eiers vertoon baie professioneel in die deursigtige houer en is ‘n aandagtrekker. Hierdie produkte is immers op pad na topkombuise en -markte toe. Op ons vraag antwoord sy dat die wyfiekwartel oor ‘n tydperk van drie dae sowat 2 eiers lewer.

Rondom die vleisproduksie en –verwerking kan mens maar net oopmond staar oor hoe netjies en sindelik die verwerkingsaanleg vertoon. Hulle gelisensieerde abbatoir, die enigste in die land, verwerk die vleis in omtrent enige denkbare formaat; heel kwartels, ontbeende kwartels, borsfilette, boudtjies en dye, lewertjies, lewerpatee en so gaan die lys aan. Dit is baie opvallend om die netjiese verpakking waarin die produkte die perseel verlaat te sien. So op ons eie dink ons ook maar dat sjefs in baie gevalle wispelturige mense kan wees en as die produk nie treffend in die verpakking voorkom nie, sal daardie mense nie daarvoor lus wees nie. Rondom die abbatoir noem sy dat daar nie soortgelyke voorbeelde was nie en sy moes aanmekaar improviseer. Die kwartel is ‘n klein voël en anders as in ander pluimvee abbatoirs, waar hulle met groot hanteerbare karkasse werk, kan dieselfde toerusting nie vir die kwartels gebruik word nie. Die kwartel wat geslag word se gewig is omtrent 400 gram en om dit te kan hanteer sonder om vermorsing tot gevolg te hê is nogal ‘n uitdaging wat vernuf verg.

So met die aanstap na die broeikaste toe praat Colette onderhoudend oor hierdie boerdery. Sy noem dat sy van nature ‘n rustelose geaardheid het en nie sou dink dat sy na bykans vyf jaar nog steeds so ‘n passie vir hierdie boerdery sou hê nie. Sy gesêls interessant en die feite rol oor haar lippe. Ons het ophou om vrae te vra want die wyse ou mense het gesê dat die geheim om inligting te kry is om die kundige aan die gang te kry en dan jou bek stil te hou!

Die bevrugte eiertjies gaan na die broeikaste wat in totaal 33 000 eiers kan uitbroei. Dit is ‘n groot getal en hierdie deel van die boerdery beslaan ‘n oppervlak van omtrent drie normale garages. Dit is tiperend van die boerdery wat ons van die begin af beindruk het. Die hele boerdery, hokke inkluis, beslaan nie reuse oppervlaktes nie. Duidelik is daar baie dinkwerk en gesonde beplanning in hierdie projek ingesit. Soos ons saam Colette deur die proses loop, is die orde wat ons sien duidelik opvallend. Hulle is besig om nuwe hokke aan te bou en selfs dit lyk asof dinge so hoort. Ons weet dat byvoorbeeld hoenderplase ook streng riglyne het oor afstande tussen hokke om die verspreiding van siektes te keer. By haar is dieselfde reëls van toepassing maar sy noem iets interessant. Haar mortaliteite is redelik min en die kwartels, seker maar omdat hulle wilde voëls is, is nie eintlik vatbaar of die draers van tipiese pluimvee peste en -siektes nie.

Die toer is gedoen en ons drink koffie. Die gesprek gaan lekker aan en Colette verduidelik dat die uitbreidings wat sy nou doen, noodsaaklik is. Sy moet fyn trap om die snelgroeiende behoeftes wat die mark wil hê te bevredig en haar voëls se getalle moet nou drasties vermeerder van 12 000 na 20 000. Haar mark is net die Suid-Afrikaanse mark. Die buitelandse mark is hoegenaamd nie nou in haar visier nie. Sy het agente wat in die groot sentra van die land die bemarking doen en die logistieke stelsels wat die lewering moet doen werk baie goed.

Hoe lyk die prys van jou produk? “Ons moet onthou dat ons hier ‘n nismark betree het wat selfs ook gereken kan word as ‘n eksotiese mark,” sê sy met groot erns. “Noodwendig is die prys duurder as ander tipes pluimvee, maar dit word vir my gesê dat die kwartel ‘n unieke eiesoortige smaak het. Ek dink dat die behoefte gaan vergroot en probeer juis om daarvoor voorsiening te maak.”

Enige advies vir enige voornemende kwartelboer? Sy dink ‘n rukkie en sê: “Daar is definitief ‘n mark vir kwarteleiers. Soos jy self kon sien is die vleis en die verwerking daarvan geweldig gekompliseerd. Die vestiging van so ‘n verwerkingsaanleg kos baie geld en daar bestaan nie bloudrukke daarvoor nie. Die eiermark is ‘n ander storie. Ek sou sê met ‘n minimum van 10 000 voëls behoort mens ‘n redelike eierboerdery aan die gang te kan hou. Daar is altyd ‘n aanvraag daarvoor.”

So met die uitstap word sy gevra waar die naam Treadstone vandaan kom. Sy noem dat dit maar die klein treetjie wat sy moes gee om daarmee te begin te simboliseer. Sorry – ons stem nie saam nie. Dit wat ons gesien het moes eerder woorde soos Giant Leapstone of iets soortgelyks wees.

Dit was regtig lekker om by Colette te kon kuier. Soos altyd is ons trots op die boere van ons omgewing en ons brag graag. Sy en haar besigheid is iets om oor te brag!