Troeteldiere Wat Skrik Vir Niks !

DirkEko-toerisme is ‘n groot trekpleister vir Suid-Afrika. Toerisme is een van die land se grootste inkomstes. Eko-toerisme is ‘n manier om die biodiversiteit te ondersteun en sodoende die ekonomie ‘n hupstoot te gee.

Dit gee die res van die wêreld ‘n aangename prentjie van die land. ‘n Plus punt van eko-toerisme is dat dit die kulture in die omgewing respekteer en bewaar. Dit is ook ‘n goeie bron van werkskepping in ‘n land waar daar so baie werklose mense is. Buitelanders, veral Europeërs, is lief daarvoor om na ons land te kom om ons besonderse natuur-en-diere lewe te sien.


Blink Boer het met Dirk Pio van Predators Pride en Chameleon Village Lion Park gaan gesels oor wat dit alles behels om ‘n deelname aan eko-toerisme te hê en hoe hulle besighede dit bevorder. Predators Pride het ‘n groot verskeidenheid katte. Daar is die groot gunsteling, die leeu asook luiperds, jagluiperds, rooikatte, tierboskatte en tiere. Die hiënas is die uitsondering tussen al die katte. Hulle ander tak by Chameleon Village het dieselfde en meer. Wit leeus en tiere kan daar gesien word.

Daar is baie reëls en regulasies van om so ‘n plek op die been te kry. Jy moet eers ‘n besigheidsplan en ‘n identifikasie van jou grond vir die natuurbewaring gee. Om twee leeus aan te hou het jy ‘n minumum van 1500m² grond nodig. Niks minder of swakker nie. Die elektriese omheining moet sterk en volgens standaard wees voor enige roofdier aangehou mag word. Predators Pride is nie ‘n teelplaas nie.
Hulle fokus al hulle aandag op die toeriste om sodoende vir hulle die beste moontlike ervaring te gee wat hulle nie in ‘n wildtuin sal ontvang nie. Teelplase is net so belangrik vir die natuur en ekonomie. ‘n Leeu of ‘n luiperd kan nie meer net in die wild rondloop nie. Die mensdom het al so uitgebrei dat daar bitter min plek is waar mense nie woon en leef nie. So dan moet die roofdiere in ‘n wildtuin of in netjies toegespande kampe bly.
Buitelanders is geneig om op hierdie tipe plekke te werk waar hulle in kontak kan kom met die wilde diere. Dan betaal hulle plus minus R5000 ‘n week om te werk. Dis ‘n wins vir die besigheid en dit maak die buitelanders gelukkig om hulle geld uit te gee vir die interaksie tussen mens en dier. Dis ‘n wen-wen situasie. Predators Pride en Chameleon Village Lion Park akkomodeer skool-en-toer groepe asook families regdeur die dag. Kinders geniet dit baie, dit is baie opvoedkundig en gee hulle ‘n beter persepsie van roofdiere. Kinders moet van ‘n jong ouderdom af leer hoe belangrik hierdie plekke en diere is. Daar is ook aand toere, maar slegs op bespreking.
Na die toer kan mens gaan ontspan in hulle lieflike restaurant area. As jy graag daar wil trou kan daar vir jou gereël word dat een van die jagluiperds die ringe vir jou in die kapel af bring. Die roofdiere word elke tweede dag gevoer.

Hulle dieët is 90% hoender en 10% rooivleis. Die rooivleis is meestal vir die kleiner roofdiere omdat hulle dit meer nodig het as die groter roofdiere. Die hoenders kom van naby geleë hoenderplase. Die hoenders word binnegoed, vere en al vir hulle gegee. Geen lewendige dier mag gegee word as voedsel nie. So dit is 100% veilig om daai foto saam met die jagluiperd te neem om vir almal by die huis te gaan wys. Dis opvoedkundig en maak vir ‘n wonderlike dag uit. So? Is die jagluiperd nou ‘n kat of ‘n hond? Jy sal hulle maar moet besoek om die antwoord uit te vind.