Uie – nog ‘n suksesverhaal

 Hendrie Hills en Marliné in die uieland

Hendrie Hills en Marliné in die uieland

Ons bel ‘n uieboer en sê ons wil graag kom kyk want dit raak mos nou oestyd. Hy sê nee, ons moet na Hendrie Hills toe gaan, hy is die grootste uieboer in ons omgewing.

Hendrie is baie sku vir publisiteit – dit het baie oorreding gekos om hom sover te kry om in te stem tot die onderhoud. Hy is ‘n baie netjiese boer en wil nie voorgee dat hy brag nie. Ons brag weer graag met ons knap boere. Ons is trots op hulle.

Hy is ‘n baie aangename kêrel en ons raak aan die gesêls. Ons verduidelik dat ons in hierdie en die vorige uitgawe graag oor water berig, die geskiedenis van ons bronne en sommer ook enigiets wat mense interesseer.

Eensklaps is die uie vergete en ons raak verdiep in die geskienis. Sy grootoupa was een van die Hartbeespoort se dambouers. Hy was een van die nedersetters wat destyds die grond waarop ons staan, by die destydse regering gekoop het. Ons het in die vorige uitgawe van Blink Boer hieroor berig en hier kom die geskiedenis weer bymekaar – wat ‘n toeval. Toe kom nog ‘n toeval. Sy oupagrootjie was Hendrik JL Mels en is op 16 Februarie 1890 gebore. Hulle het net dogters gehad. Na sy afsterwe het sy oumagrootjie weer getrou – met ‘n Hills. Toe kom sy oupa Hendrik JL Hills in die lewe, later sy pa, Hendrik JL, toe hy Hendrik JL en die vyfde geslag, sy seun Hendrik JL Hills op 16 Februarie 2001. Op dieselfde dag 111 jaar na sy oor-oupagrootjie. Daardie familie het ‘n besondere stamboom.

Die ys is gebreek en ‘n trotse Hendrie gaan wys ons die ou sinkhuisie wat sy oupagrootjie in die 1920’s self gebou het. Hy het die huisie gerestoureer en dit gee mens ‘n gevoel van genoegdoening om so na die geskiedenis te staan en kyk.

Eindelik is ons toe na die uie toe. Hier ontmoet ons vir Charlese, Angelina, Madeleine, Cristina en Jessica. Ons verdwasing is sigbaar en Hendrie verduidelik dat die saadmense verskillende kultivars vernoem het na mooi mense van die silwerdoek. Wonder wat Charlese sal sê as ons vir haar ‘n boodskap stuur dat sy nogal lekker smaak!

Hendrie noem dat sy pa in die vroeg ’80s begin het om met uie te boer. Hy het dit net voortgesit en het ‘n natuurlike liefde daarvoor. Die verskillende kultivars gee verskillende groeilengtes. Die vorm en kleur verskil ook van mekaar. Hy eksperimenteer nie met rooi uie nie en beskou dit as ‘n nismark.

Sy 60 hektaar lewer sowat 65 ton per seisoen en die produkte word in sy eie pakhuis verpak. Daarna gaan dit na die verskeie varsproduktemarkte.

Hy noem dat dit nie moeilik is om met uie te boer nie. Mens volg maar net die basiese boerderybeginsels. Daar is selfs niks snaaks aan die toediening van bemesting nie en dit word maar bepaal deur die verskillende grondtipes.

Oor homself sukkel hy om te praat. Hy het wel ‘n B Comm Rek graad van Tukkies en sê baie selfbewus dat ‘n finansiële agtergrond nogal ‘n aanwins is vir sy besigheid.

Hy is ‘n baie innemende ou – mens kuier lekker by hom.

Oupagrootjie se sinkhuisie vanuit die 20er jare
Oupagrootjie se sinkhuisie vanuit die 20er jare