–   ‘n Sensitiewe onderwerp

(Boervrouens van Brits se omgewing moet aandag gee)

 

 

Crystal en Kyla van Willow Wood
Crystal en Kyla van Willow Wood

By Blink Boer is ons altyd aan die vrouens se kant. Buitendien is dit ook vrouemaand. Daar is ligsinnige gesegdes van “agter elke suksesvolle boer is daar ‘n kwaai vrou,” en so aan. Ons vind dit nie snaaks nie want ons weet hoe almal, man en vrou, meer as hulle kant op elke plaas bring. Meestal weet die man glad nie wat in die boeke aangaan nie en verwys jou na die vrou. Sy is ook die een wat na Eskom en die Munisipaliteit moet gaan terwyl hy iewers ‘n sogenaamde “krisis” het. Sy weet die meeste van markpryse af as hy. Ons weet dit – dis hoekom ons dink dat die boervrouens van Brits se deugde vêr meer as die van korale is.

Aan die ander kant ken ons ook ons boere. Opsommend is hulle hardwerkend en ernstig. Staan vroeg op en kom laat huistoe. Werk hard en vat verantwoordelikheid. Hy moet manalleen sy eiesoortige krississe hanteer en kan nie altyd vir vroulief in detail verduidelik hoe bekommerd hy is oor verskeie dinge nie – dinge soos die politiek, rugby, water, arbeid, bankbeleid, arbeidswetgewing, uitvoermarkte ensovoorts. Hy het ook gehoor dat vroue hoog-emosioneel kan raak en sonder die geringste mate van agitasie van sy kant af eensklaps in ‘n ‘tierin’ kan verander. Hy het dit by sy pelle gehoor.

Ons wil graag op ‘n eenvoudige wyse vir vroulief verduidelik hoe ons dinge sien. Hoekom beland ordentlike boere laatnag in sy buurman se land terwyl die bakkie sonder stoornis idle? Daar is ook stories van gesiene mense soos dokters en rekenmeesters wat op die plaaspaaie verdwaal en op die randjie van die pad of in die kanaal beland. Sulke stories is legio. Ons moet begrip vir hulle omstandighede hê. Hulle is verantwoordelike mense en sulke insidente gebeur nie op ons openbare paaie nie. Wanneer hulle naby die huis kom, verslap die konsentrasie en ‘n ligte mistykie gebeur. Immers, niemand is volmaak nie.

(Bogenoemde in ‘n kassie)

 

 

 

Uit en kuier roete!

‘n Boer moet af en toe in die dorp kom – koöperasie, bank en sulke goed. Hy is besig en wil nie tyd mors nie. Hy loop ‘n mede-boer raak en onmiddellik gaan die gesprek oor belangrike goed – natuurlik landbou en verwante dinge.

“Kom ons gaan Thach Haven toe,” is die eerste voorstel wat onmiddellik aanvaar word. Twee mede-dorstiges nooi sommer hulself. Hulle besef dat hulle verantwoordelike groot boere is en bestel ietsie baie lig. Johan en Kiewiet is in die omgewing en groet vriendelik. Die Eisbein special is baie verleidelik, maar dis nog laatoggend. Ons boereheld bespreek net daar ‘n tafel vir vier vir Sondag se buffet. Hy is ‘n gesinsman en weet dat daardie buffet van die hoogste standaard is. Daarmee gaan hy vanaand vir vroulief totaal week maak – sy het al lankal daaroor geskimp. Nou raak hy meer woeliger want hy voel hy het ‘n paar punte in die bank. Ons gaan nou op die Thabazimbi-pad.

Boys, volg my. Ons gaan nou Willow Wood toe – reg oorkant die ou Wenholdt-meule, duskant die Krokodilrivier,” sê ons held en almal groet behoorlik voor hulle vertrek. Dis mos hoe ons boere dit doen. Op pad besluit hy eensklaps om by Bak-Gat te gaan stop en brood en verskeie snoeperye aan te skaf. Sy punte bou op – sy ontvangs vanaand gaan geweldig groot wees.

Daar aangekom het die geselskap intussen aangegroei. Verstommend hoe mense hulself nooi en almal aanvaar dit op natuurlike wyse – ons is mos boere en ons is joviaal.

Crystal en Kyla agter die kroegtoonbank is baie professioneel en weereens word ietsie baie lig genuttig. Andre is die eienaar en loer in. Hy het die manne se aandag toe hy verduidelik dat hulle die volle monty aanbied. Die plek is kindervriendelik en hulle het kampeer- en braaiplekke. Selfs ook ‘n groot swembad en paint ball baan. Hulle neem kennis dat die plek funksies aanbied vir tot en met 50 mense en het selfs romantiese etes op hulle spyskaart. Baie van die manne raak toe opgewonde en begin huistoe se kant toe dink! Ons held wil toe orde skep en sê daar is nog ‘n stop.

Golden Hours is dit toe – duskant die treinspoor. Hier kom hulle agter dat afgesien van petrol, hulle ook lewensnoodsaaklike items soos sigarette, koeldrank en selfs ‘n ‘lekseltjie’ vir vanaand se eiesoortige funksie saam liefie kan aanskaf. Nou is hulle honger en bestel die gewilde Al Fredo wat tant Nollie se call sign was. Die tradisionele kroeg het behoue gebly, maar Stephan het die gedeelte langsaan in ‘n lieflike aparte kroeg met dansvloer en moderne ligte omskep. Daar hoor ons dat Vrydag- en Saterdagaande heerlik ge-jol word. Oud en jonk geniet die samesyn. Ons by Blink Boer weet dit – ons het mos die mampoerervaring daar gehad.

Die helfte van die manne breek nou weg en die Atlanta-boere gaan nou vorentoe – huistoe, maar met ‘n finale stop. By Johan van die Atlanta Stasie is dit soos by die huis. Alles is daar beskikbaar en in aller yl word huistoe gebel om bestellings vir take aways te neem. Enigiets – hamburgers , geroosterde toebroodjies en so gaan die lys aan. Die kroeg het ‘n huislike atmosfeer en finaal het ons nou rede om ‘n bietjie vas te val. Ons wag vir die bestelling en intussen moet ons nog finaal praat oor sake van die dag. Hier sien die manne dat die Sondag-buffet van die hoogste standaard is en dadelik word ‘n paar tafels bespreek. ‘n Familie-inval die naweek word verwag. Ons is nou filosowe en het oplossings vir enige krisis wat voor ons is. Verstommend oor hoe ons saamstem en op elke punt wat benadruk word is daar volle instemming.

Ons is mos groot boere wat vandag besluit het om net so ‘n bietjie ons hare te laat hang. By die huis weet ons is daar is volle begrip – ons werk mos hard en dit word waardeer.

Ns – Ons held het al sy aankope in sy vriend se bakkie vergeet. Sy vrou het na die Sondagmiddagete by Thatch Haven vir die eerste keer geglimlag.

One thought on “Uit en kuier roete!

Comments are closed.