Ukutula – Leeu ervaring par excellance

Willie Jacobs van Ukuthula
Willie Jacobs van Ukuthula

Glo dit gerus. Dis ‘n feit! Ukutula soos ons dit vandag ken, kom uit die Junk Mail uit!

Willie Jacobs het ons volle aandag toe hy verduidelik hoe hy 10 jaar gelede ‘n advertensie van ‘lodge for sale’ in die Junk Mail gesien het. Hy en sy vrou Jillian, het ‘n fotografiese- en kamera besigheid in Pretoria gehad en was baie bewus van die nuwe digitale era wat soos ‘n golf oor hierdie tipe besigheid gespoel het. Die tyd van kamera herstelwerk was vinnig besig om te taan en het stelselmatig na die geskiedenis begin skuif. Met ‘n glimlag verduidelik hy dat hy nogal weerstand van sy gesin ervaar het toe hy en Jill besluit het om die lodge met 12 leeus aan te skaf.

Met sy kamera en fotografiese agtergrond het hy iets raakgesien – die unieke produk van Afrika en sy diere. Hy het die potensiaal van toerisme, ook eko-toerisme raakgesien en het voluit gegaan om die plek van 260 hektaar van nuut af te skep. Hy gesels gemaklik en is presies met wat hy bedoel. Hy is ‘n no nonsence man. Moontlik sy Duitse agtergrond? Hy glimlag en sy houding versag wanneer hy oor sy ouers praat, Duitse immigrante wat hier in Suid Afrika hulle tuiste kom vind het. Hy is in Suid Afrika gebore. “Ongelukkig is ek ‘n control freak,” kom die erkenning, “maar om so ‘n besigheid saam met jou gesin te bedryf is ‘n wonderlike ervaring vir enige ouer.” Almal is betrokke. Helga is die hoofsjef en Willie (jr) is die hoofbewaarder. Selfs Berndt, wat nog op skool is, leef voluit by Ukutula. Die laatlam het ‘n natuurlike aanleg met diere. Daar is ‘n volwasse gevlekte hiena wat net hy kan hanteer. Enige konflik so met die familie saam? Hy glimlag breed. “Sonder enige twyfel. Sommer elke dag,” lag hy en verduidelik verder, “maar dit maak ons almal sterker.” Klink nogal na ‘n gebalanseerde gesin.

Ons begin om oor die leeus te praat en raak sommer dadelik die sensitiewe onderwerp van leeujag of geblikte leeus aan. Sy hele houding verhard en mens kan sien dat hierdie negatiewe deel wat in die bedryf voorkom, vir hom ‘n steen des aanstoots is. Hy antwoord doelgerig: “Aan die begin was ons onbewus van hierdie negatiewe dinge wat in die bedryf voorkom. Ons beleid was egter van die begin af duidelik dat ons ‘n totale weersin het in die jag van leeus, wild of mak. Dit was ook duidelik in ons missie dat ons nie ‘n sanctuary vir diere wou skep nie. Ons wou ‘n duidelike bydrae tot bewaring skep en volgens ons oordeel, bestaan dit uit twee dele; opvoeding en navorsing.” Ons glo hom – hy is passievol en baie ernstig oor verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid.

Die navorsingsgedeelte is baie interessant. Hy verduidelik dat die navorsing dit hoofsaaklik ten doel het om die leeus te help in die veld. Ons was verras om te hoor dat TB en selfs Vigs ‘n probleem by leeus is. Rondom genetiese navoring noem Willie dat hulle dit hoofsaaklik ten doel het om onetiese of onkundige teelpraktyke hok te slaan en kundigheid in die bedryf te vestig. Dit klink soos ‘n Who’s Who lys oor almal wat by hulle betrokke is; Universiteit van Pretoria, Universiteit van die Weskaap en universiteite van Duitsland, Nederland en Ierland. Selfs National Geographic is by ‘n projek betrokke. Navorsing is baie duur, erken Willie. Ter verduideliking noem hy dat een projek wat ses weke geduur het, hulle wat Ukutula is, sowat R22,000 per week uit die sak gejaag het. Die meeste bewaringsprojekte is van ander instansies afhanklik vir fondse. Baie moet hulle deure sluit as gevolg van ‘n gebrek aan geld vir die uitgawes. Ukutula het die voordeel dat sy inkomste uit die eko-toerisme voldoende is om self pa te staan vir die bes moontlike huisvesting en mediese behandeling van sy diere. Die universiteite wat betrokke is, genereer hulle eie fondse en Ukutula is hier maar net ‘n tipe van ‘n bydraende vennoot met hulle infra-struktuur. Dit is bekend dat universiteite kieskeurig is oor wie hulle mee assosieer en hulle betrokkenheid by Ukutula se leeus is verseker ‘n groot kompliment.

Beteken genetiese kundigheid die voorkoming van die teel van ‘n gebreklike leeu? Ons wonder of dit nou ‘n stupid vraag was of nie. “Eintlik is jy in die kol,” stel hy gerus, “daar is nog ander aspekte ook.” Hy noem dat die ‘groot breins’ van oorsee later vanjaar weer Ukutula toe kom. Blink Boer wil graag kom kyk. Willie se ons is welkom.

Die opvoedkundige deel van Ukutula is baie moeilik om te beskryf. Die Engelse praat van mind boggling. Dit is werklik. Wat dadelik uitstaan is die professionaliteit van die mense. Nog ‘n Engelse woord is polished. Vanaf die hekwag tot en met Preesa wat ons soos langverlore familielede begroet ervaar mens hartlikheid – geensins aangeplaktheid nie. Willie-hulle doen iets reg. Mens voel welkom.

Die jong ongetroude boere van Brits moet nou aandag gee – die mooiste lywe lê rondom die swembad. Pragtige buitelandse meisies. Ons vra Willie wat hier aangaan. Hy glimlag en sê dat hulle studente is wat op ‘n tweeweeklikse basis hier kom werk en om die ‘leeu ervaring’ mee te maak. Hulle is van oral – Amerika, Swede, Noorwee en dit eindig nie. Hulle ken nie hierdie ervaring nie en geniet dit terdee om die diere te versorg – die ‘Africa experience.’ Kan ons maar die ramkatte hiernatoe bring? (Gedagtig aan Lourens van ons vorige uitgawe) “Hoegenaamd nie,” antwoord Wilie beslis. Professionaliteit bly hulle wagwoord. Gelukkig weet ons dat die ramkatte van Brits die Engelse taal net in ‘n noodgeval gebruik! Daardie meisies is veilig.

Die akkommodasie is 5-ster gehalte. ‘n Paar chalets wat vier tot ses mense kan huisves. Jillian se hand is duidelik hier te sien. Ons vra Willie wat hy as monitor gebruik oor gaste se kritiek. Filosofies antwoord hy dat die buitelandse toeris hiper-sensitief is oor gehaltediens – by Ukutula smile hulle en moan nie – dis sy barometer. Ons het geen kommentaar nie – ons het dit ook ervaar. Om in die middel van die nag wakker te word met die gebrul van leeus, is iets wat ander mense nie verstaan nie.

Die groot oomblik breek toe aan. Gaan stap met leeus – nogal groot leeus! Weereens professionele mense. Hulle heet Colin, Tapfuma en Asini – oud Zimbabwiers wat in die wildelewe-tipe van omgewing grootgeword en opgelei is. Hulle boesem onmiddelik vertroue in. Met sorg verduidelik hulle dat net volwassenes, hoër as 1,5 meter, met die leeus kan gaan stap. Die leeus sien kleiner mense as prooi en ons word gewaarsku om nie te buk om foto’s te neem nie. Niemand het gebuk nie! Hier moet mens weer ‘n lansie breek – by Ukutula is hulle hiper-sensitief oor veiligheid; mense en leeus. Tapfuma het die vier leeus uit die kamp gaan haal terwyl ons buite met afwagting gestaan en wag het. Colin het ons van kieries voorsien en verduidelik dat die leeus wild is alhoewel hulle in gevangeskap grootgeword het. Die kieries is daar vir beheermaatreels. Blykbaar is ‘n leeu bang vir ‘n kierie – ons verstaan dit nou nog nie, maar dit het gewerk. Seker maar senuwees. Elk geval – ‘n ervaring duisend. Hulle is ongeveer 2 jaar oud en ons hoor hulle name is Irene, Nicole, Suez en Leroy. – sy pa is blykbaar ‘n Kalahari-leeu. Ons as amateur ‘leeustappers’ is mos nie stupid nie. Die pecking order is duidelik. Tapfuma is die leier en stap voor. Duidelik geniet die leeus die uitkomkans. Hulle loop die veld in en kom weer terug wanneer Tapfuma fluit. Ons bly by mekaar – hulle het so gesê. Naby die watergat gebeur toe iets wat mens bybly. Die gidse wys daarop dat die leeus skielik in ‘n aanvalslinie ingaan. Hulle sprei uit en die gidse verduidelik dat daar blesbokke by die water is. Hulle is reg om aan te val! Ons stap nog nader en sien die boude van blesbokke wat spaander. Ons vra vir Colin wat hulle doen as die leeus chase en vang. Baie eenvoudig verduidelik hy dat hulle nie sal inmeng nie. Hulle sal wag tot hulle klaar hulle ete geniet het en dan die leeus terugvat. Dit klink nogal eenvoudig! Dit is duidelik dat dit ‘n missie van die leeuplaas is om die onderskeid tussen die natuur en gevangeskap te versoen. Hier word mens baie duidelik bewus van die krag in die natuur.

Terug by die lodge is daar nog ‘n ervaring. Kinders en leeus. Kinders word na die welpies geneem terwyl ‘n bekwame Daniella eers die hande met ontsmettingsmiddel behandel en die kinders die geleentheid gee om met die welpies te speel. Om die kinders se genot te sien kan geen geld koop nie. Daarna gaan die kinders die devils ontmoet – sowat drie maande oud. Baie lewendig en doen hulle naam gestand! Heeltyd is Daniella en helpers by om seker te maak dat dinge nie handuit ruk nie. Een outjie is bietjie nukkerig – hy word uitgelos. Mens besef weereens hulle is wilde diere, selfs van kindsbeen af.

Ons hoor dat daar sowat 3000 skoolkinders per jaar die kans kry om die leeuervaring te geniet – ‘n goeie belegging vir die toekoms.

Die lodge het ook verskeie diere – tiere, hienas, rooikat en so aan. Hulle is in ruim hokke en die toeris word toegelaat om enige vraag te vra. Daniella antwoord die vrae met groot geduld en duidelik is sy kundig. Die cheetah projek trek ons aandag. Willie verduidelik dat cheetahs ‘n erg bedreigde spesie is – sowat 5000 is oor ter wereld. Willie is baie ingenome met die feit dat Alan Strachan, wat 35 jaar ervaring in die cheetah bedryf het, by hulle aangesluit het om die projek te bestuur. ‘n Baie bekende in die cheetah omgewing en hy praat baie entoesiasties oor die 16 cheetahs waarmee hy werk.

Terug by die leeus. Met groot geduld verduidelik Willie dat hulle benadering in alle opsigte ernstig is, etiek en veiligheid word deurgaans benadruk. Die teelprogram word streng gekontroleer. Van die 14 wyfies is slegs drie vrugbaar – alles wetenskaplik gebaseer. Daar word nie geteel vir finansiële gewin nie. Maar sekerlik word van die leeus verkoop? “Ongetwyfeld,” antwoord hy, “maar as gevolg van die publieke sentiment oor onetiese praktyke doen ons moeite om te verseker dat die leeus ‘n heenkome kry by mense wat soos ons voel.” Hulle het selfs op die internet ‘n datastelsel geregistreer waarop die vordering vansulke leeus gemonitor word. Die markte is die buiteland en soortgelyke instansies in Suid Afrika.

Ukutula is die volle pakkie – wilde diere, uitstekende akkommodasie, stylvolle restaurant, swembad en afgeronde personeel. Die res van die reservaat beslaan omtrent 250 hektaar waar sebras, kameelperde en 12 bokspesies voorkom. Die toegangspryse is baie bekostigbaar. Enigeen wat nog nie hierdie ervaring gehad het nie, mis iets.

Willie is baie trots oor die wisselwerking tussen Ukutula en boere van die omgewing – hy sê dit is ‘n gemeenskap waar almal vir mekaar tyd het. Kort-kort vrek ‘n dier en Ukutula het geen probleem om sulke karkasse te gaan haal nie – kos vir die leeus. Hulle spaar darem ook die boer die moeite om van die karkas ontslae te raak.

Vir ons by Blink Boer is dit verblydend om te sien hoe ons boeregemeenskap met innovering vorentoe kyk, sukses behaal en mekaar bystaan.