Vaalkopdam – ‘n mooi storie

Buks en Ally – Vaalkopdam se “ruggraat”
Buks en Ally – Vaalkopdam se “ruggraat”
Nuwe uitbreidings in proses
Nuwe uitbreidings in proses

Ons stel mos belang in water – baie belang en het by Vaalkopdam gaan slimmer word. Dit is nou ‘n interessante plek.

Die dam is in 1971 gebou. Die dam is netjies en funksioneel en die omgewing word baie goed bestuur in hulle reservaat waar daar verskeie wildsoorte voorkom. Die dam het seekoeie en krokodille ook! Hulle spog graag met hulle fasiliteite vir hengel en kampering. Geen bote word op die water toegelaat nie – ons dink ook dit kan bietjie gevaarlik wees.

Die dam self het interessante statistieke;

  • het ‘n kapasiteit van 55 miljoen kubieke meter,
  • die oorloop is op 11,5 meter wanneer die dam 100 persent vol is,
  • in droogtetye, soos nou, word die dam aangevul vanaf die Rooikoppiesdam met ‘n kanaal. Hulle natuurlike invloei is die Elandsrivier met sy sytakke. Waterinvloei vanaf die Rooikoppiesdam het ‘n kapasiteit van 4 kubieke meter per sekonde, of te wel 4000 liter per sekonde. Dit beteken 245 miljoen liter per dag. Dis nogal baie water en
  • wanneer die dam se watervlak onder 35% kom, raak dit krities. Die watervlak is nou op 43%.

Die dam vervul twee funksies naamlik die loslating van water vir die boere stroomaf en water vir die suiweringsaanleg wat ons belangstelling gaande het.

Ons ontmoet vir Buks Strydom – Aanlegbestuurder Vaalkop Watersuiweringswerke. Dit is lekker om te ervaar hoe iemand wat sy storie ken, vertroue inboesem. Hy werk vir Magalies Water, twintig jaar lank en gesels baie gemaklik en in verstaanbare taal oor ‘n onderwerp wat geneig is om vinnig in ‘n tegniese warboel te verval. Duidelik is hy goed gekwalifiseerd. Kan mens julle water drink? Die eerste logiese vraag. Hy glimlag en sê: “Enige tyd. Ons aanleg is lankal in bedryf en ons voorsien gesuiwerde water deur middel van pyplyne aan die owerhede van Rustenburg, Mogwassie, en Thabazimbi. Ook vir Sun City.”

Met die aankoms was dit opmerklik om die groot omvang van die konstruksiewerk raak te sien. Dit is enorme bouwerk wat aan die gang is en ons vra weer wat hier aangaan. “Om dit eenvoudig te stel,” sê hy met groot geduld, “ons het die vermoë gehad om 210 megaliter water per dag te suiwer. Dit is 210 miljoen liter water. Met die uitbreidings wat nou aan die gang is het ons dit intussen opgeskuif na 240 megaliter. Die uitbreidings se voltooiingsdatum is November vanjaar wat ons dan met die vermoê van 270 megaliter laat.” Hy verduidelik dat die uitbreidings genoodsaak is deur nuwe behoeftes vir die Pilanesberg-Suid Skema. Die myne en gemeenskappe daar het water nodig.

Ons wil nie onnodig lastig wees nie, maar wil weet hoe die water lyk wat hy kry om te suiwer. Buks is ‘n realis en noem dat die water se kwaliteit definitief onder standaard is. Selfs die water van die Elandsrivier word meer-en-meer besoedel as gevolg van die sytakke wat ook deur informele nedersettings vloei. Die probleem is hoofsaaklik die blou-groen alg wat erger raak in die somer. Die water vanaf die Rooikoppiesdam het ‘n sterk konsentraat van nutriënte, hoofsaaklik fosfate en nutrate, wat ‘n stimulant is vir alge. Die resultaat is wat hulle noem ‘n algal bloom. Hierdie is ‘n tipe van ontploffing wat geweldige smaak- en reukprobleme veroorsaak. So ‘n tipe water benodig gevorderde behandelingsprosesse – hoofsaaklik koolstof om dit te absorbeer – en maak die suiweringsproses uiteraard duurder.

Kan ons gaan kyk? “Natuurlik,” sê Buks. “Ek gaan jou ook voortel aan Ally. Hy is die resident-ingenieur van die konsultasiegroep wat hierdie aanleg bou.”

How do I call you? “You call me Ally. No sir or mister!” sê hierdie innemende boorling van Natal baie vriendelik. “I am going to rattle you. My wife is a staunch Blue Bull supporter.” Net daar word ons pelle. Hierdie man het duidelik ook ‘n intelligente vrou.

Die eerste vraag is of hulle op skedule is. Ally sê dinge loop 100% op skedule en Buks beaam dit met ‘n kopskud. Hulle kry natuurlik weerspatrone soos reen wat ‘n invloed op die bouwerk het, maar selfs daarvoor word daar ook voorsiening gemaak in hulle beplanning. Ons vra Ally meer uit oor sy agtergrond en kom agter hy is ‘n oud-Umgeni waterman. Baie ervaring agter hom. Hy noem dat die waterhantering van Natal en dit van ons identies dieselfde is. Praat hy en Buks met mekaar en ruil idees uit? “Op ‘n gereelde basis,” antwoord Buks. “In ons wêreld praat almal dieselfde taal oor watersuiwering.”

Ally verduidelik dat hulle gespesialiseerde konsultasie ingenieurs is. Daar is ‘n beperkte aantal in die land en is oral by projekte soos hierdie betrokke. In kort kom dit daarop neer dat die suiweraars soos Buks, die details verskaf en hulle doen dan die ontwerp en hou toesig oor die konstruksie. Klink simpel genoeg, maar die omvang van die werk laat dit nie simpel lyk nie.

So in die gesprek maak Ally ‘n paar baie interessante punte. Duidelik werk hierdie man al baie jare met water en moet oor ‘n magdom van kennis beskik. Sommer so in die begin van die gesprek noem hy dat hierdie kommoditeit, naamlik water, baie skaars is. Ons land is immers bekend as ‘n waterskaarse land. Voordat die mens begin inmeng het, het water deur middel van die natuur homself gesuiwer – deur watervalle, vleigebiede, sandwalle en so meer. In die woeste, onontwikkelde deel van ons verlede was daar drinkbare water in die binneland – mens moes net soek. In die moderne era van vandag moet water beheer word. Beheermaatreels is daar, in wetgewing en staatskoerante. Dit is belangrik want die gevolge van swak beheermaatreels kan katatrofies gevolge he – soos cholera, ecoli en ‘n horde ander peste en siektes. Dit is die owerheid se verantwoordelikheid. Hy noem ook ‘n ander aspek wat ons nie sommer aan dink nie. Damme soos hierdie moet duidelike loslatingskedules hê vir die water wat stroomaf gaan. Die riviere het ‘n rits van eko-behoeftes – visse, voëls en verskeie spesies van ons flora.

            Dit was voorwaar aangenaam om so ‘n ooglopende suksesverhaal van naderby te beskou. Die twee spanne het duidelik ‘n goeie werksverhouding. Hulle stelsels werk en hulle eindverbruikers kry water – gesuiwer en drinkbaar. Die vraag ontstaan spontaan. Hoekom kan Madibeng se watersuiwering nie ook so werk nie? Dit laat mens wonder – diep wonder.