Warmer en Warmer – Waar Gaan Dit Eindig?

warmerKlimaatsverandering is ‘n probleem tussen maatskaplike aksie en ekologiese gevolge, tussen die samelewing en die natuur, en is nou verwant aan baie areas van omgewings-, politieke en ekonomiese kommer. Prof. Oliver C. Ruppel is ‘n internasionaal geakkrediteerde kenner van klimaatsverandering en dra op nasionale, streek- en internasionale gebied tot hierdie belangrike vraagstuk by. Sy een fokusarea in die Regsfakulteit is internasionale wêreldhandelsreg.

Hy is een van die 14 wêreldwye akademiese stigtersvoorsitters van die Wêreldhandelsorganisasie (WTO), wat hy in 2009 aan die Universiteit van Namibië gestig het, en adviseer die WTO al jare lank oor Afrika-verwante sake. “Ek stuur handel in ‘n rigting waar dit tot volhoubare ontwikkeling bydra. Ek kyk dus na behoeftes op die vasteland en hoe handel kan bydra tot die verbetering van armoedeverligting, beleidsontwikkeling en alles wat daarmee saamhang.”
‘n Probleem soos hierdie kan slegs gehanteer word as ‘n samelewing se kapasiteit om aksie te neem terselfdertyd op ‘n volhoubare wyse uitgebrei word en sy kennisbasis verdiep en verbreed word. So ‘n hibriede (‘hybrid”) probleem word gekenmerk deur ‘n hoë vlak van kompleksiteit wat betref oorsaaklike prosesse volgens verskillende ruimtelike, temporale en sosiale skale – van plaaslik tot globaal, van huidige gebeure tot langtermyngevolge, en van alledaagse aksie tot beleide van nasionale en wêreldwye regimes.

Dit verg nuwe maniere om kennis te genereer waardeur ‘n behoorlike begrip van die uitdagings wat in die gesig gestaar word, verkry kan word. ‘n Interdissiplinêre benadering tot navorsing oor klimaatsverandering kan die nodige bronne van kritieke kennissinergie verskaf. Ons moet leer wegbeweeg daarvan om in isolasie van ander dissiplines te werk. Die reg het die verpligting om mense en politici ook so te lei dat ons verhoed dat dinge gebeur en nie net reageer op dinge as dit klaar gebeur het nie.

Ons dink dis absoluut onontbeerlik om waar moontlik alle ander dissiplines te betrek om sodoende die beste inligtingsbasis te kry om die reg só te bewerk dat dit doeltreffend sal funksioneer. Die Toekomstige Okavango-projek is betekenisvol en verskeie lande rondom die Okavangorivier-delta is daarby betrokke. Dit behels ‘n ondersoek na hoe water en watersekuriteit tot konflik en politieke onrus kan bydra.

Dit is ‘n reuseprojek wat uiteindelik tot ‘n bestuursoplossing vir die Okavangarivier-delta sal bydra, en ook as ‘n voorbeeld vir ander riviervleigebiede in Afrika, soos die Nyl, kan dien. Die droë boslandgordel staar reeds voortgesette agteruitgang in die gesig en word as een van die globale kantelpuntstreke beskou sover dit biodiversiteitsverlies, klimaatsimpak en biogeochemiese siklusse van ander streke betref. Hierdie bedreigings kan grond- en waterkonflik versterk.

Gekombineer met die oorkoepelende en ingrypende gevolge van klimaatsverandering word daar verwag dat die druk op hulpbronne gaan toeneem.Daar het nog altyd mense rondom die Okavangorivier gewoon, maar hierdie voorheen afgeleë gebied word nou toenemend toeganklik vir ontwikkelaars en markte. Mense kom dus te staan voor die snel veranderende wêreld wat nie bloot net hul sosiale lewens en kultuur raak nie, maar ook hul verbruikspatrone wat natuurlike hulpbronne betref.
Ons het ook ‘n besonderse belang by die BRICS-projek – die vennootskap tussen Brasilië, Indië, Rusland, China en Suid-Afrika. BRICS is ‘n uiters belowende vennootskap tussen lande met ontluikende ekonomieë en ‘n hoë potensiaal vir ontwikkeling. Vanuit ‘n regsperspektief moet die manier waarop dit inderdaad geleenthede vir Suid-Afrika en die res van Afrika kan skep, ook ontleed word. Suid-Afrika kan ‘n belangrike rol in die konteks van Afrika speel deur handelswetgewing te fasiliteer, aangesien BRICS ‘n hoë premie plaas op die ontginning van die vasteland se natuurlike hulpbronne.
Wat syfers betref, word daar jaarliks miljarde in VSA dollars aan ontwikkelingshulp in Afrika bestee, terwyl baie meer miljarde in VSA-dollarinkomste uit die uitvoer van die vasteland se natuurlike hulpbronne gegenereer word. Ons moet vra waarheen hierdie geld in der waarheid gaan! BRICS, ‘n inisiatief deur verskillende land en wat verbroei word deur die Raad vir Geesteswetenskappe en Navorsing (RGN) (Meer bekend as die HSRC in die buiteland) kan die motief wees vir beheerde ontwikkeling en volhoubaarheid regoor die wêreld as sekere meganismes ingestel word, soos die BRICS Ontwikkelingsbank wat onlangs op die laaste BRICS-beraad gestig is wat in Maart 2013 in Durban plaasgevind het. Klimaatsverandering is ‘n geleentheid sowel as ‘n uitdaging. Die wenner van die verlede, industrialisasie, is gedoem om in die konteks van klimaatsverandering dalk die verloorder te raak, en andersom.

Mense van Afrika kan dalk voordeel trek uit sekere ontwikkelings as klimaatsfinansiering byvoorbeeld in so ‘n mate beskikbaar raak dat dit tot volhoubare ontwikkeling kan bydra en terselfdertyd by klimaatsverandering aanpas en dit versag.Die uitdaging is om nie te lank te talm nie, want namate die aarde en sy waters warmer raak en temperature styg, gaan ons meer droogtes, vloede en natuurlike rampe kry. Fondse moet beskikbaar gestel word om rampvoorkoming en -verligting waar nodig te verskaf, en dit moet op ‘n behoorlike en georganiseerde wyse bestuur word.