Zuma sal moet begin verduidelik

flagPresident Jacob Zuma moet die druk sekerlik voel met die teikendatum vir sy staatsrede wat al nader kom. Mens kan maar net hoop dat hy dié saak ernstig sal benader omdat die parlement en publiek teen dié tyd seker al moeg is vir sy bekende lag wanneer hy feite moet konfronteer of vrae oor sy leierskap (of totale gebrek daaraan) moet beantwoord. Dít is die mening van Armand Greyling, AfriSake se wet- en beleidsanalis.

“Ons is daarvan oortuig dat die meeste Suid-Afrikaners saamstem dat Zuma ’n hele paar goed sal moet verduidelik. Niemand weet in watter rigting die land op pad is nie, en dit lyk asof Zuma sélf geen rigting in gedagte het nie, soos wat sy onvoorspelbaarheid duidelik laat blyk. Wat Suid-Afrikaners verder frustreer, is sy gebrek aan verantwoordelikheid of totale onkunde oor die feit dat sy aksies ’n direkte invloed het op ons toekoms en reputasie in die res van die wêreld,” het Greyling bygevoeg.

Dit sal nie naastenby genoeg wees dat Zuma bloot aangeleenthede uitlig waarmee die land tans gekonfronteer word, en dan sê dat die regering bekommerd is oor dié aangeleenthede en dit sal aanspreek nie. Die ANC is reeds sedert 1994 oor dié aangeleenthede bekommerd – dit is nou hoog tyd om te aanvaar dat die ANC-regering die land versaak. Suid-Afrikaners wil weet wat die regering dóén, nie wat dit gáán doen nie.

“Ons glo dat Suid-Afrikaners duidelikheid wil hê oor wat gedoen word om die internasionale mening oor Suid-Afrika te verbeter en om huidige beleggers te behou en nuwe buitelandse beleggings te lok. Hulle wil ook weet wat die regering doen om ons swak ekonomiese groei en gevolglike werksverlies aan te spreek; hulle wil weet wat aan die toenemende onstabiliteit in die mynbedryf gedoen word,” het Greyling bygevoeg.

Suid-Afrikaners sal veral belangstel in die grondwetlike hof se bevindinge oor of en hoe Zuma belastingbetalers se geld moet terugbetaal ná die Nkandla-debakel en die openbare beskermer Thuli Madonsela se verslag oor die aangeleentheid. Die Grondwet moet gehandhaaf word om bó politieke motiewe verhewe te wees en te kan bewys dat iets inderdaad in plek is om die regering te reguleer, in plaas daarvan om toe te laat dat die chaos waarin ons onsself tans bevind kans gegee word om te vererger.

Een ding is seker: Geen leier in die res van die ontwikkelende wêreld sou graag in Zuma se skoene wou wees nie. Hy het beslis ’n moeilik taak wat voorlê, en sou hy probeer om die land weer eens te mislei, sal hy die ontevredenheid in die komende munisipale verkiesings voel.